Laerskool Impala open sy deure op 27 Julie 1965 met ‘n totaal van 285 leerlinge. Op daardie stadium was dit die derde Afrikaanse laerskool in Kemptonpark. Laerskool Impala is op 3 November 1966 amptelik in gebruik geneem met ‘n leerlingtal van 265 leerlinge en 10 onderwysers. Mnr. C.E. Visser was die eerste waarnemende hoof. Daar was egter geen tuine of velde nie en daarom is daar dadelik begin met fondsinsamelingsprojekte soos byvoorbeeld verkopings, konserte, volksspele-vertonings en ‘n reuse stoeitoernooi. Tydens die eerste tien jaar van die skool se bestaan is R35 000 uit die skoolfonds aangewend om die skoolterrein te ontwikkel.Terrasse is uitgelê, gras is rondom die skool aangeplant, motothuise is opgerig, ‘n snoepwinkel is aangebou, ens. In Mei 1974 dreun die eerste grondverskuiwingsmasjinerie. Binne vier maande was die werk afgehandel. Gras word aangeplant en twee weervas korfbalbane word in ontvangs geneem. Gedurende Maart 1975 word twee tennisbane voltooi. Hierdie ontwikkelings is moontlik gemaak gevolg van die wonderlike samewerking wat daar tussen die ouers, personeel en kinders bestaan het.

Mnr. G.S. Hauptfleisch is gedurende Januarie 1966 aangestel as hoof van Laerskool Impala. Mnr. J.M.N. Kruger neem die leisels by hom oor in September 1968 as waarnemende hoof en word op 1 Januarie 1971 as hoof aangestel.  Gedurende 1983 word mnr. C.J. De Beer as hoof aangestel. Mnr. J. Bouwer neem in 1989 die leisels by Mnr. De Beer oor as hoof en tree aan die einde van 2006 af as hoof. Mnr. T. Gouws is gedurende 1 Januarie 2007 die hoof van Laerskool Impala tot en met 25 April 2018. Die huidige skoollied is deur Mnr. Hennie Smit, akteur van egoli, geskryf en gekomponeer. Laerskool Impala se naam is afgelei van die eerste straalvliegtuig wat in Suid-Afrika vervaardig is naamlik die Impala vegvliegtuig.

Mnr. G.S. Hauptfleisch het die  skoolwapen ontwerp en dit is afgerond deur mnr. De Ridder van Mentor.

Die leuse “Vinnig en Vlytig” is d.m.v ‘n kompetisie deur die leerlinge voorgestel.

Laerskool Impala huisves tans 1616 leerders. Die Gr. 1- 7 Leerders sluit 1240 van hierdie getal leerders in. Laerskool Impala spog vanaf 2008 met ‘n nuutgeboude kleuterskool (Gr-R Stralejakkers). Ons is bevoorreg om tans 376 leerders by die babaklas tot die Gr. R-Sentrum te akkomodeer. Die onderwyspersoneel het intussen tot  69 gegroei, 11 Administratiewe dames, 9 Studente, 1 Gr. R. Assistent1 tereinbestuurder, 10 Terrein Assistente, 1 Leerder Toilet Assistent, 1 Kombuis Assistente en 4 Naskool personeel.

Laerskool Impala reik steeds na hoër hoogtes!!

 
 
          
          
 

  

LAERSKOOL IMPALA WAAR ONS LAG, LEEF EN DROOM IN GELOOF